Sunday 22 January 2012

Die tien horings van Daniël 7 - waarna verwys dit?

Die profesieë wat aan die profeet Daniël toegeskryf word, is van die mees besondere profesieë in die Bybel. Alhoewel sommige Bybelverklaarders dink dat dit daar oor dinge gaan wat lankal verby is, is daar baie ander verklaarders wat van mening is dat sommige van daardie profesieë - soos die in Daniël 7 waarin daar na die tien horings verwys word - steeds in vervulling moet gaan.  Waarom dink hulle so? En is dit moontlik dat daardie profesie op ons eie tyd dui?  In hierdie artikel neem ek al die Bybelgedeeltes wat na hierdie tien horings verwys, versigtig onder oë en kyk ek of daar enige rede is om te dink dat dit in ons eie tyd in vervulling kan gaan.

Volgens die Bybel het Daniël omtrent 2600 jaar gelede gelewe.  Dit impliseer dat die profesieë wat aan hom toegeskryf word al eeue - selfs millennia - oud is.  Tog word dit vandag steeds intensief deur Bybelverklaarders en gewone Christene bestudeer wat glo dat sommige daarvan nog in vervulling moet gaan - dalk in ons eie tyd.  Onder hierdie profesieë tel die profesie van Daniël 7 oor die verskillende diere wat uit die see (i.e. die mensdom) te voorskyn kom, naamlik 'n leeu, 'n beer, 'n luiperd en 'n groot, verskriklike dier met tien horings op sy kop.  Volgens die verklaring in die teks wys die diere op verskillende koninkryke wat deur die loop van die eeue op die wêreldtoneel sou verskyn (Dan. 7:17; 23).

Hierdie profesie kom ook in die Nuwe Testament ter sprake.  So is daar onder die profesieë wat in die boek Openbaring opgeteken is, een wat duidelik by hierdie profesie omtrent die dier met die tien horings aansluit.  In hierdie geval word 'n dier beskryf wat 'n samestelling is van die diere van Daniël 7 (Open. 13:1,2).  Hy het wel sewe koppe - waarop daar weereens tien horings is.  Volgens die teks het hierdie tien horings in daardie tyd steeds in die toekoms gelê (Open. 17:12).

Die groot vraag is wanneer hierdie profesie oor die tien horings in vervulling gaan?  Is dit reeds vervul of moet dit nog in vervulling gaan?  Ek gaan ten eerste die profesie in Daniël 7 versigtig ondersoek, waarna ek by Openbaring 13 en 17 stilstaan.  Ons vind 'n redelik uitgebreide verduideliking van die tien horings in Openbaring 17.  Daarna sal ek die vraag oor 'n moontlike vervulling in ons eie tyd onder oë neem.

Die visioen van Daniël 7

Volgens Daniël 7 het Daniël in 'n gesig gesien hoedat vier groot diere uit die see opkom.  Die eerste was soos 'n leeu, met vlerke van 'n arend.  Die tweede was soos 'n beer, met drie ribbes in sy bek.  Die derde was soos 'n luiperd, met vier vlerke op sy rug, asook vier koppe.  Die vierde was "vreeslik en skrikwekkend en baie sterk", met yster tande.  Dit het "verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap" (Dan. 7:7).  Verder was daar tien horings op sy kop.  Terwyl Daniël toekyk, het daar 'n verdere horing op die laaste dier se kop verskyn.  Drie van die vorige horings is ontwortel om vir hierdie horing plek te maak.  Die horing het mens-oë en 'n mond wat groot dinge teen die Allerhoogste spreek.  Hy mishandel die heiliges van die Allerhoogste vir drie en 'n half jaar lank ('n tyd, tye en 'n halwe tyd, Dan. 7:25, vgl. Open. 12:14, 11:3, 13:5).

Dan sien die profeet hoe trone reggesit word en hoe 'n oue van dae daar (op sy troon tussen die ander trone?) gaan sit. Ons lees verder "die gereg het gaan sit" (Dan. 7:10) wat dalk na regters verwys wat op die trone plaasneem.  Verder word die boeke geopen. Die gereg oordeel toe die horing en ontneem hom van sy heerskappy.  Die dier word gedood en sy liggaam verbrand.  Ons lees verder dat daar een, soos die "Seun van 'n mens", met die wolke van die hemel kom en na die oue van dae gebring word.  Hy ontvang toe die heerskappy, eer en "koningskap".  Al die volke, nasies en tale vereer Hom en sy koninkryk is ewig en onvernietigbaar (Dan. 7:14). Dit word ook die koninkryk van die "volk van die heiliges van die Allerhoogste" genoem.

Volgens die verklaring in die teks verwys die vier diere na vier "konings", maar daar word later genoem dat dit eintlik koninkryke is (Dan. 7:17,23).  Volgens die profesie sou daar dus vier koninkryke wees wat na mekaar op die wêreldtoneel verskyn.  As ons gewoon na die kenmerke van die diere kyk, dan lyk dit of die leeu op die Babiloniese Ryk dui wat in Daniël se eie tyd op die toneel was. Dit is deur die Ryk van die Perse (die Meders en Persiese Ryk volgens Dan. 8:20) en daarna deur die ryk van die Grieke (waarna daar ook in Dan. 8:21 verwys word) opgevolg.  Die vier koppe van die luiperd verwys duidelik na die vier dele waarin die Griekse Ryk na Alexander die Grote se dood verdeel is.

Waarna verwys die vierde dier?  Alhoewel daar verklaarders is wat dit met die regeringstyd van een van die latere konings wat in een van die vier dele van die Griekse Ryk (die Siriese deel van die ryk) aan bewind gekom het, naamlik Antiochus Ephiphanus, verbind omdat die beskrywing van die laaste horing gedeeltelik met hom ooreenkom (hy het die Jode baie vervolg ens.), is daar andere wat dit met die Romeinse Ryk vereenselwig.  Hierdie laaste interpretasie aanvaar dat die visioene wat in die boek Daniël opgeskryf is, bonatuurlik van aard is en dat Daniël as profeet in staat was om dinge wat in die toekoms lê (selfs die verre toekoms) korrek te voorsien.  

Die rede waarom verklaarders die vierde dier met die Romeinse Ryk verbind, is omdat die uitbeelding daarvan as buitengewoon sterk, "vreeslik en skrikwekkend", met "groot yster tande" (volgens sommige vertalings), die indruk laat dat hierdie dier baie magtiger as die voriges was.  Dit is nie waar van Antiochus Epiphanus nie; dit is wel waar van die Romeinse Ryk.  Dit maak dan ook baie meer sin om Antiochus in die raamwerk van die voorafgaande Griekse Ryk te plaas omdat hy oor een van die vier dele (koppe) geheers het.  Verder weet ons dat Jesus die uitbeelding van die "Seun van 'n mens" wat met die wolke van die hemel kom (Dan. 7:13), op sy wederkoms van toepassing maak (Matt. 24:30 ens.).  Dit impliseer noodwendig dat die tyd wanneer die laaste dier (of horing) geoordeel word, waarna die koningskap aan die "Seun van die mens" gegee word, volgens die Christen interpretasie eers na die tyd van Christus plaasvind.  Die vierde dier dui dus op die Romeinse Ryk.

Daar is ander interne getuienis in die boek Daniël wat ook daarop dui dat die vierde dier na die Romeinse Ryk verwys. In die droom van Nebukadnesar (asook Daniël) wat in Daniël 2 beskryf word, vind ons 'n profesie wat presies met die een in Daniël 7 ooreenkom.  In hierdie geval word die wêreldryke as verskillende metale waarvan 'n groot beeld gemaak is, uitgebeeld (Dan. 2:37-42).  Die kop is van goud, die bors en arms is van silwer, die maag en heupe is van koper, die bene is van yster en die voete en tone is van yster gemeng met klei.  Die bene van yster verwys na 'n "vierde koninkryk" (Dan. 2:40), waarvan die beskrywing presies met die vierde en vreeslike dier van Daniël 7, wat ook daar die "vierde koninkryk" (Dan. 7:23) versinnebeeld, ooreenkom.  Dit is hard soos yster - yster kan alles fynstamp en verpletter.  So sal hierdie ryk alles fynstamp en vergruis.  Dit is duidelik nie toevallig dat die vierde metaal, naamlik yster, met die vierde dier, wat ook "groot yster tande" het, ooreenkom nie.

Hierdie verskillende metale verwys weereens na die Babiloniese Ryk (dit word eksplisiet in Dan. 2:37,38 genoem), die Persiese Ryk, die Griekse Ryk en 'n verdere buitengewone ryk waarvan die beskrywing treffend met die Romeinse Ryk ooreenkom.  Dit is nie net die geweldige mag van daardie ryk wat mooi deurkom nie.  Dit is opvallend dat die twee bene van die beeld ook treffend met die twee dele waarin die Romeinse Ryk verdeel is ooreenkom.  Verder kom die tien tone duidelik met die tien horings op die vierde dier ooreen.  Volgens die profesie sal 'n klip in 'n berg losraak, afrol en die beeld verbrysel.  Volgens die verklaring in die teks verwys die klip, wat groei tot 'n groot rots wat die hele aarde vul, na die ewige, onvernietigbare koninkryk wat reg aan die einde sal aanbreek - duidelik ooreenkomstig die koninkryk van die "Seun van 'n mens" in Daniël 7.   

Die tien horings in Daniël 7

As ons aanvaar dat die profeet Daniël wel in sy gesigte die toekoms voorsien het, dan is die identifikasie van die vierde koninkryk met die Romeinse Ryk verreweg die beste verklaring vir die gedeeltes.  Dit pas ook in by die Christen perspektief dat die koms van die "Seun van 'n mens" op die wolke van die hemel in Daniël 7 op die wederkoms van Jesus dui.  Ons kan dus nou met hierdie agtergrond die betekenis van die tien horings (of tien tone) verder ondersoek.

Volgens die verduideliking in die teks wys die tien horings op "tien konings" wat uit die vierde koninkryk (die Romeinse Ryk) opstaan (Dan. 7:24).  Dit is onduidelik of hulle die een na die ander verskyn en of hulle almal gelyk op die toneel is.  Ons lees verder dat die ander horing (die een wat die heiliges vervolg), eers na hulle opstaan.  Hy werp drie van die vorige heersers neer wanneer hy verskyn.  Dit kan impliseer dat al tien gelyk op die toneel is, sodat drie van die tien dan vir die ander horing plek maak.

In die voorstelling van die beeld volg die tien tone ook na die bene (en die voete).  Die yster van die bene is steeds gedeeltelik in die tone teenwoordig - wat daarop dui dat die tien tone uit daardie koninkryk van yster voortkom.  Die gelyktydigheid van die tien tone (soos die twee bene) dui moontlik daarop dat hulle saam op die toneel is.  Ons lees dan ook dat die tien tone op 'n enkele koninkryk dui: "En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is - dit sal 'n verdeelde koninkryk wees" (Dan. 2:42).

Ons kan dus uit hierdie bespreking van die twee profesieë in Daniël die volgende gevolgtrekkings maak:

1. Die tien horings/tone verskyn in die raamwerk van die ou Romeinse Ryk.
2. Hulle verskyn eers na die verdeling van die Romeinse Ryk in twee dele (uitgebeeld as twee bene).
3. Hulle verskyn eers na die ryk van die voete, wat eksplisiet van die tone onderskei word (Dan. 2:41,42).  Hierdie voete-ryk is 'n voortsetting van die ou Romeinse Ryk omdat die yster - wat daardie ryk versinnebeeld - steeds in hierdie ryk teenwoordig is.  Dit verskyn eers na die yster (die ou Romeinse Ryk) en is oënskynlik onbelangrik in vergelyking met die ander omdat dit nie in Daniël 7 (of weer later in Openbaring) genoem word nie. (Ek argumenteer in my boek Die Arabiese Opstande dat die twee voete na die Oostelike Bisantynse Ryk (306-1453 n.C.) en die Westelike Heilige Romeinse Ryk (800-1806 n.C.) verwys wat uit die twee dele van die Romeinse Ryk voortgekom het.)
4. Dit lyk of die tien horings/tone gelyk in een koninkryk aan beheer is.
5. Die feit dat die tien horings op die vierde dier (die Romeinse Ryk) voorkom, kan impliseer dat hulle weer daardie ryk sal oprig in die vorm van 'n herstelde Romeinse Ryk.
6. Die regering van die ander horing (die een wat die heiliges vervolg) volg eers na die koninkryk van die tien horings/tone.

Die tien horings in Openbaring

Die tien horings waarvan ons in Daniël 7 lees, word weer later in die Bybel, in die boek Openbaring, as deel van die profesieë in daardie boek vermeld.  In Openbaring word die tien horings op die koppe van die draak (wat die duiwel versinnebeeld) asook die "dier" voorgestel.  Daar kan geen twyfel bestaan dat die profesie oor die dier in Openbaring voortbou op die vroeëre profesie in Daniël 7 nie.  In hierdie geval is die dier 'n samestelling van die vier diere van Daniël 7 - dit het die bek van 'n leeu, die pote van 'n beer, lyk oorhoofs soos 'n luiperd (dit het seker kolle) en het verder tien horings op sy sewe koppe.  Al wat nuut bykom, is die verwysing na sewe koppe. Ons lees dat die dier 'n groot oorwinnaar in 'n oorlog is en dat "die hele wêreld" verwonderd agter hom aangaan.

Wat opval omtrent die bespreking van die dier in Openbaring 13, is dat dit treffend met die laaste horing van Daniël 7 (die een wat die heiliges vervolg) ooreenkom.  So lees ons dat hy 'n mond het wat groot woorde en godslasteringe spreek, nes die horing doen (Open. 13:5,6; Dan. 7:8,25). Hy maak oorlog teen die heiliges en oorwin hulle, nes die horing die heiliges van die Allerhoogste mishandel (Open. 13:7; Dan. 25). Beide doen dit ook vir drie en 'n half jaar (42 maande).  Ons lees verder dat hy mag ontvang oor elke stam, taal en nasie.  Uiteindelik veg hy saam met die konings van die aarde en hul leërs teen Christus, wat op 'n wit perd in die stryd uittrek (Open. 19:11-21).  Die dier word gevang en in die vuurpoel gewerp. Daar is ook, soos in Daniël 7, sprake van trone wat reggesit word en persone wat daarop op gaan sit om 'n oordeel uit te spreek (Open. 20:4).  Daarna regeer Christus saam met die opgestane heiliges (Open. 20:4).  Hier kom Christus duidelik met die "Seun van 'n mens" van Daniël 7 ooreen.      

Ek wil nou kyk wat die teks omtrent die tien horings op die koppe van die dier sê. Soos in Daniël 7, verwys die tien horings in hierdie geval na tien "konings" (Open. 17:12; Dan. 7:24).  Soos die laaste horing van Daniël 7 (die een wat die heiliges vervolg) met die tien horings geassosieer word, so word die dier van Openbaring (wat duidelik met daardie horing ooreenkom), met hulle verbind.  Daar kan geen twyfel bestaan nie dat die profesie in Openbaring slegs verder uitbrei op die profesie van Daniël 7 en dat dit dus verdere lig op dieselfde tien horings werp.

Volgens die verduideliking in Openbaring 17 het die tien konings se regeringstyd tydens die openbaring aan Johannes steeds in die toekoms gelê.  Hulle het toe nog geen koningskap ontvang nie (Open. 17:12).  Dit lyk of hulle gesamentlik op die toneel sal wees, want ons lees dat hulle een "gesindheid" ("mind") het en dat hulle hul "krag en mag" aan die dier oorgee (open. 17:13).  Nadat hulle hul heerskappy aan die dier oorgee, heers hulle vir 'n periode van "een uur" saam met hom (Open. 17:12,17).  Ons kan ook hieruit aflei dat hul eie regeringstyd die van die dier voorafgaan aangesien hulle reeds "krag en mag" het wanneer die dier op die toneel verskyn.  Ons lees ook dat hulle "hulle heerskappy" aan die dier oorgee totdat die "woord van God volbring" is (Open. 17:17). Tydens hulle regering sal hulle die "prostituut" verbrand wat op een of ander wyse met Rome in verband staan (Open. 17:18) (Ek bespreek die prostituut in my boek Die Arabiese Opstande). Uiteindelik trek hulle saam met die dier in die oorlog teen die Lam (Christus) uit (Open. 17:14).

So, waarna verwys die dier en die tien konings?  Daar is verklaarders wat die visioene van Openbaring met die gebeure van daardie tyd (die eerste eeu n.C.) in verband bring.  Volgens hulle verwys die dier na 'n Romeinse keiser soos Nero.  Die probleem met hierdie siening is dat die regering van die tien konings steeds in die tyd van die openbaring aan Johannes (~96 n.C.) in die toekoms was - die dier, wat eers na hulle kom, kon dus nie al vroeër op die toneel wees nie.  Verder is dit duidelik dat die dier in die tyd direk voor die wederkoms van Christus regeer (hy veg saam met die tien "konings" in 'n oorlog teen Christus).  As ons enigsins in 'n letterlike wederkoms glo, dan kan ons nie hierdie verklaring aanvaar nie. 

As ons by die profesieë in Daniël 2 en 7 kan gaan kers opsteek, dan lyk dit of die vervulling van die profesie oor die tien konings asook die dier/horing eers na die val van die ou Romeinse Ryk (die ryk van yster) sou volg.  Dit volg verder ook eers na die verdere voete-ryk van yster en klei.  Dit kon dus nie in die tyd toe die boek Openbaring geskryf is, plaasvind nie. Daar is dus baie verklaarders wat die dier met die Antichris verbind (Joh. 4:3).

Die sewe koppe van die dier

Ons kan nou na die verklaring van die sewe koppe van die dier in Openbaring 17 kyk omdat dit ook lig op die tien horings werp.  Volgens die teks verwys die koppe na die sewe berge waarop die prostituut sit (moontlik die sewe bekende heuwels waarop Rome gebou is).  Dit verwys verder ook na "sewe konings", waarvan vyf reeds (in daardie tyd) geval het, een (die sesde een) toe op die toneel was en nog een (die sewende een) steeds moes opstaan. Die sewende een is slegs vir 'n kort tydjie op die toneel.  Die dier, wat nie onder die sewe tel nie maar by hulle behoort, is self die agtste (Open. 17:10).

Verwys hierdie sewe “konings” na sewe individuele konings? As die dier se regering eers na die ou Romeinse Ryk aanbreek soos ek in die vorige paragraaf aangetoon het, dan kan hierdie nie na sewe opeenvolgende konings in die Romeinse tyd verwys nie.  Net soos die vier "konings" in Daniël 7 nie op individuele konings dui nie, maar op koninkryke, verwys hierdie "konings" dan ook op koninkryke.  Maar na watter koninkryke verwys dit? Aangesien die profesie in Openbaring duidelik by die profesieë in Daniël 2 en 7 aansluit, kan ons aanvaar dat die vier koninkryke van Daniël onder hierdie sewe gereken moet word.  Ons kan verder aanvaar dat die vierde koninkryk van Daniël 2 en 7 ooreenkom met die sesde van hierdie sewe koninkryke, naamlik die een wat in Johannes se tyd aan bewind was – die Romeinse Ryk. Dit beteken dat daar twee vroeëre koninkryke is wat nie in Daniël 2 en 7 vermeld word nie.

Om te bepaal watter koninkryke te sprake is – van al die baie wat deur die eeue op die wêreldtoneel verskyn het en nog sal verskyn – moet ons vra wat die rede kan wees dat sekere koninkryke bo ander uitgesonder word. Ons vind die antwoord op hierdie vraag in die profesieë van Daniël. Daar gaan dit oor koninkryke wat deur die loop van die eeue oor die volk Israel beheer uitgeoefen het. Al die ryke wat daar uitgebeeld word, naamlik die Babiloniese Ryk, die Persiese Ryk, die Griekse Ryk (veral nadat die ryk in vier verdeel is) asook die Romeinse Ryk, het beheer oor Israel uitgeoefen. Op grond hiervan kan ons postuleer dat die twee vroeëre koninkryke wat by die sewe ingesluit word, die Assiriese Ryk en die Egiptiese Koninkryk (gedurende die Derde Tussentydse Periode) is, wat ook (in die tyd voor Daniël) oor Israel beheer uitgeoefen het (vgl. 1 Kon. 14:25, 26).

Dit bring ons by die sewende koninkryk wat net vir 'n kort tydjie op die toneel is voordat die laaste ryk – die van die dier – volg. Waarna verwys hierdie ryk? Dit is moontlik dat dit na die ryk van die tien konings verwys, wat juis die ryk van die dier (die agtste ryk) vooraf gaan. Ek het vroeër getoon dat hulle gesamentlik oor 'n koninkryk regeer voordat hulle hul mag aan die dier oorgee, waarna hulle saam met hom heers (vgl. Dan. 2:42; Open. 17:17). Ons lees verder dat hulle vir “een uur” mag ontvang (alhoewel dit waarskynlik is wanneer hulle saam met die dier heers) – wat duidelik op 'n kort tydperk dui ooreenkomstig die tydsduur van die sewende ryk. As die sewende koninkryk op die regeringstyd van die tien konings betrekking het, dan kan ons verwag dat hulle ook soos die vorige ryke oor die gebied van Israel gesag sal uitoefen. Wat die agtste ryk van die dier betref, sal hy moontlik ook oor Israel gesag uitoefen omdat hy – volgens Daniël 7 (waar hy as die laaste horing uitgebeeld word) – die “heiliges” sal vervolg, wat op persone uit Israel kan dui omdat daardie profesie ten eerste op Israel betrekking het (dit kan natuurlik ook op ander "heiliges" dui).

Ons kan dus nou uit die bespreking van Openbaring 13 en 17 die volgende gevolgtrekking maak:

1. Die tien horings wys op "konings" wat gesamentlik oor 'n koninkryk heers.  Omdat ons lees dat hulle "soos konings" heers (Open. 17:12), is hulle dalk nie "konings" in die tradisionele sin van die woord nie.
2. Die koninkryk van die tien konings het tydens die openbaring aan Johannes steeds in die toekoms gelê.
3. Die koninkryk van die tien konings kom moontlik met die laaste van die sewe koninkryke (soos uitgebeeld deur die sewe koppe van die dier) ooreen wat die ryk van die dier voorafgaan.  Dit impliseer dat hulle ook oor Israel mag uitoefen.  Ons kan hier onthou dat die horings oorspronklik op die vierde dier van Daniël 7 (die Romeinse Ryk) voorkom, wat kan impliseer dat hulle weer daardie ryk in een of ander vorm oprig (sien bo).  Israel het juis in die magsgebied van daardie ryk geval.
4. Die tien konings gee hul mag aan die dier oor, waarna hulle saam met hom regeer.
5. Die tien konings trek saam met die dier in 'n oorlog teen Christus uit.
6. Die tien konings en die dier word verslaan, waarna die oordeel plaasvind en Christus se ryk volg.  

Die koninkryk van die tien konings

Ons vind dus die volgende: die tien horings op die kop van die vierde dier van Daniël 7, die tien tone van Nebukadnesar se beeld asook die tien horings op die sewe koppe van die dier van Openbaring 13 en 17, verwys almal na dieselfde tien konings wat saam oor 'n enkele koninkryk heers. Hierdie koninkryk is vir 'n kort tyd op die toneel. Dit verskyn in die geografiese gebied van die ou Romeinse Ryk. Dit is moontlik dat hierdie ryk grotendeels met die gebied van daardie ryk ooreenkom (as 'n herstelde Romeinse Ryk) – en dat selfs Israel binne hul gesagsgebied val (soos met al die ryke voor dit wat in die profesieë uitgebeeld word). Alhoewel daar sedert die Romeinse Ryk verskeie ryke was wat oor die land van Israel gesag uitgeoefen het, was die volk natuurlik nie toe in die land teenwoordig nie.  Dit is eers in 1948 dat hulle weer in hul land herstel is.  Ons kan dus aanvaar dat hierdie ryk nog nie op die toneel verskyn het nie.  As ons glo dat die profesie sal uitkom, kan ons steeds daarvoor uitkyk. 

Volgens Daniël 7 sal daar 'n verdere (elfde) horing op die kop van die vierde dier verskyn. Hy kom ooreen met die dier van Openbaring 13 en 17. Hierdie heerser verskyn in die tyd voor die wederkoms op die toneel. Hy heers vir drie en 'n half jaar en vervolg die heiliges. Volgens baie verklaarders wys dit op die uiteindelike Antichris. Wanneer hy aan bewind kom, word drie van die tien konings volgens Daniël 7 “ontwortel”. Dit kan gewoon beteken dat hulle terugstaan sodat hy 'n gesagsposisie kan verkry. Volgens Openbaring 13 is daar steeds tien konings, selfs nadat die dier aan bewind gekom het. Hulle heers vir 'n tyd saam met hom. Dit is opvallend dat ons lees dat hulle “soos konings” heers (Open. 17:12), wat kan impliseer dat hulle dalk nie konings in die tradisionele sin van die woord sal wees nie.

Ons kan nou op die eietydse situasie fokus.  Omdat die koninkryk van die tien konings in die raamwerk van die ou Romeinse Ryk verskyn, kan ons die gebeure in Europa dophou om te sien of daar onder die lande van die Europese Unie (i.e. waar die ou Romeinse Ryk eens was) sommige is wat verder integreer om uiteindelik 'n politieke magsblok op die been te bring wat op so 'n ryk kan uitloop.  Ons kan verder die Arabiese lande rondom die Middellandse See, waar die opstande was, dophou om te sien of daar demokrasieë tot stand kom.  As die gebied rondom die Middellandse See mettertyd in die raamwerk van die Europese Unie geakkommodeer word, dan sal daardie blok al meer na 'n herstelde Romeinse Ryk begin lyk.  Ek bespreek hierdie dinge volledig in my boek Die Arabiese Opstande.

Skrywer: Dr Willie Mc Loud (Ref. wmcloud.blogspot.com)

No comments:

Post a Comment