Tuesday 25 October 2011

Die Arabiese Opstande - Inhoudsopgawe

1. Die Tien Horings
Inleiding
Die profesie wys tot by die wederkoms
‘n Kort bespreking van die profesie
Die Romeinse Ryk
Die voortsetting van die Romeinse Ryk
Die tien tone
‘n Eietydse interpretasie van die tien tone/horings
Nuwe gebeure in die Europese Unie
Die Arabiese opstande
Die nuwe toring van Babel
Die tien tone/horings

2. Die Ander Horing
Inleiding
Die skaapram en die bokram
Die horings van Daniël 7 en 8
Antiochus Epiphanus in Daniël 11
‘n Verdere toekomstige vervulling van die profesie
Die dier van Openbaring 13
Die dier en die prostituut
Die tyd wanneer die horing kom

3. Die Rooi Slang Familie en die Tempelskatte
Inleiding
Die Rooi Slang
Die Rooi Slang simboliseer ‘n familielyn
Die Rooi Draak
Die nasate van die duiwel?
Et in Arcadia ego …
‘n Staatsgeheim
Die Tempelskatte
‘n Koning uit die stam van Dawid?
In die raamwerk van die Europese Unie
Die horing van Daniël 7?
Die komende Antichris?

4. Libië in Bybelprofesie
Inleiding
Libië in Esegiël 38
Eietydse vertolkings van die profesie
‘n Muur in Israel
Wat van Libië?
Wat van Iran?
Oorlogs- en vredesfases
‘n Komende Moslem leier?

5. Die vyeboom as teken van die wederkoms
Inleiding
Matteus se weergawe
Lukas se weergawe
Bergpieke van profesie
Die vyeboom en die laaste geslag
Verkeerde gevolgtrekkings
Tevergeefse pogings
Die 70 jaarweke
Die laaste sewe jaar
Israel as deel van die antichristelike ryk
Wat van die millennium?
Slot

Monday 10 October 2011

Gaan Griekeland in die Eurosone bly? - 'n eskatologiese perspektief

In hierdie artikel analiseer ek die huidige krisis in Griekeland vanuit 'n eskatologiese perspektief.  As ons inderdaad tydens die aanvang van die laaste dae lewe, kan ons verwag dat Griekeland binne die Eurosone sal bly.

Inleiding 

Die Europese Unie staan voor die grootste krisis in sy geskiedenis.  Dit is die opinie van die president van die Europese kommissie, José Manuel Barroso.  Verskeie Europese lande vind dit moeilik om hul skuld te diens, en 'n reddingstou moes reeds na verskeie van daardie lande uitgegooi word.  Dit is veral Griekeland wat diep in die moeilikheid is.  Daar is 'n algemene verwagting dat Griekeland binnekort nie meer sy verpligtinge sal kan nakom nie.  En dan kan daar 'n domino effek wees - ander, en groter lande, kan ook sink.  Verder is van die groot Franse en Duitse banke in die moeilikheid omdat daardie lande soveel geld aan die banke skuld.  Verskeie ontleders het al genoem dat die Eurosone (dit is die 17 Europese lande wat saam die Euro as geldeenheid deel) maklik kan opbreek en dat Griekeland daaruit gedwing kan word.  Maar is dit wat gaan gebeur?

'n Eskatologiese perspektief

Daar is verskillende maniere waarop die situasie ontleed kan word.  Die mees algemene is om op ekonomiese of politieke oorwegings te fokus (ek het reeds vroeër 'n artikel daaroor op my blog gepos: Die Europese Unie, wat gaan aan?).  In hierdie artikel wil ek egter vanuit 'n heeltemal ander invalshoek na die huidige Europese situasie kyk.  Ek wil vra: Wat kan ons vanuit 'n eskatologiese (eindtydse) perspektief oor Griekeland sê.  Hierdie vraag is natuurlik net relevant as ons die huidige Europese situasie op een of ander wyse met Bybelse profesieë oor die eindtyd in verband kan bring.  

Die kritiese leser sal dadelik sinies opmerk dat 'n mens darem seker nie alles wat op die wêreldfront gebeur na die Bybel moet probeer deurtrek nie.  Ek stem saam.  Ek dink dan ook nie dat die huidige finansiële krisis as sodanig met Bybelprofesieë verband hou nie.  Wat ek wel dink, is dat die groter wêreldtoneel stadig maar seker in 'n rigting begin beweeg wat wel treffend ooreenkom met dit wat in Bybelprofesieë vir die eindtyd voorspel word.  Dit is hierdie verband dat die huidige krisis van belang kan wees: dit kan bepaal hoe die opkomende Europese Unie uiteindelik daar gaan uitsien.  En dit wat uiteindelik binne die raamwerk van die Unie gebeur kan met die vervulling van Bybelprofesieë verband hou.  

Die huidige finansiële krisis kan verskillende uitkomste hê.  Ek sal twee noem.  Dit kan daartoe lei dat die Eurosone uitmekaar spat - dat Griekeland die Eurosone verlaat.  Dit kan egter ook die teenoorgestelde tot gevolg hê, naamlik dat die Eurosone verder integreer in 'n poging om in die toekoms meer bestand teen sulke ekonomiese skokke te wees.  Dit kan beteken dat die monetêre unie (die Eurosone) tot 'n fiskale unie uitgebrei word ('n gebied wat ekonomies as 'n eenheid bestuur word).  Dit is byvoorbeeld goed moontlik dat die reddingsfonds wat tans op die been gebring word, mettertyd tot 'n Europese Staatskas uitgebrei kan word, wat weer deur 'n belasting op finansiële transaksies in die Unie aangevul word.  Die groot vraag is of Griekeland deel van so 'n fiskale unie gaan wees?  En of so 'n unie - of dalk eerder 'n uiteindelike politieke unie - wat Griekeland insluit, met Bybelprofesieë in verband gebring kan word.

Griekeland en die tien-tone ryk van Daniël 2

Ek het elders (in my boek "Die Arabiese Opstande") voorgestel dat daar mettertyd binne die raamwerk van die Eurosone 'n groep lande sal wees wat verder integreer om 'n Verenigde State van Europa te vorm.  Hierdie lande sal nie alleen 'n monetêre of fiskale unie vorm nie - hulle sal sover gaan om 'n politieke unie tot stand te bring.  Ek het verder voorgestel dat hierdie lande uiteindelik met die tien-tone ryk wat in Daniël 2 vir die eindtyd voorspel word, kan ooreenkom.  Die tien tone van die beeld van Daniël 2 verteenwoordig die laaste wêreldryk wat kort voor die opkoms van die finale Antichris in die gebied van die oud Romeinse Ryk op die wêreldfront sal verskyn (Ek bespreek die profesie volledig in "Die Arabiese Opstande").  En dit lyk of Griekeland deel van hierdie ryk sal wees. 


Volgens die profesie van Daniel 2 kom die verskillende dele van die beeld wat Nebukadnesar in 'n droom gesien het, met daardie verskillende wêreldryke ooreen wat deur die loop van die eeue op die wêreldtoneel sou/sal verskyn en oor Israel gesag sou/sal uitoefen. Ons vind dan ook dat die verskillende dele van die beeld inderdaad treffend met daardie ryke ooreenkom wat sover reeds in die ontvouing van die geskiedenis verskyn het.  Ek verwag dus dat die res van die profesie ook so vervul sal word.  

Vir die doeleindes van hierdie artikel is slegs die onderste deel van die beeld van belang - van die bene af ondertoe (vir 'n bespreking van die res, sien "Die Arabiese Opstande").  So kom die yster bene byvoorbeeld treffend met die Romeinse Ryk ooreen - wat ook "hard" en "sterk" soos yster was.  Van al die ryke wat ter sprake kom, was dit verreweg die magtigste ryk.  Hierdie ryk is ook later in twee verdeel - ooreenkomstig die twee bene.  In die weste was Rome die hoofstad en in die ooste - waar Griekeland die hartland van die ryk gevorm het - was Konstantinopel (die "Nuwe" Rome) die hoofstad.  

Die twee bene loop natuurlik uit op die twee voete.  Die beeld se voete was gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.  Die teenwoordigheid van die yster beklemtoon dat hierdie ryk voortkom uit die vorige een wat deur die twee yster bene uitgebeeld is (die Romeinse Ryk).  Ons lees dat die yster en klei deur "menslike gemeenskap" met mekaar vermeng sal raak (Dan. 2:43).  Ons kan daaruit aflei dat dit op die twee verskillende groepe volke dui wat in die raamwerk van die latere Romeinse Ryk teenwoordig was, naamlik die Latynse volkere en die Germaanse volkere.  Soos voorspel, het daar dan ook twee ryke uit die twee dele van die Romeinse Ryk voortgekom  - ooreenkomstig die twee voete.  Dit is die Bisantynse Ryk in die ooste - wat ook die "Griekse Ryk" genoem is - en die Heilige Romeinse Ryk in die weste.  Hierdie ryke het onderskeidelik in 1460 (in die Peloponnesus) en in 1806 tot 'n einde gekom.     


Dit bring my by die tien tone.  Dit bestaan ook uit yster en klei.  Dit is duidelik slegs 'n verdere ontwikkeling in die raamwerk van die oud Romeinse Ryk.  In Daniël 7 word hierdie tien-tone ryk ook as tien horings op die kop van 'n vreesaanjaende dier met yster tande uitgebeeld.  Dit dui op 'n enkele ryk wat kort voor die verskyning van die uiteindelike Antichris - wat as 'n verdere horing op die kop van die dier uitgebeeld word - sal verskyn (Dan. 7:24).  Ons verwag dus nie alleen dat hierdie ryk in die geografiese gebied van die oud Romeinse Ryk sal verskyn nie, maar ook dat dit opnuut die twee dele van daardie ryk - waaronder die Griekse deel - in 'n eenheid sal saambring.  Dit kan dus in 'n sekere sin as 'n herstelde Romeinse Ryk beskou word.  Hierdie ryk het duidelik nog nie verskyn nie.  Dit sal kort voor die wederkoms - wat in Daniël 7 as die koms van die "Seun van 'n Mens" met die wolke van die hemel uitgebeeld word - op die wêreldfront verskyn.

Griekeland in die eindtyd

Dit bring ons by die huidige wêreldsituasie.  Dit is opvallend dat die Europese Unie presies - soos die profesie voorspel - in die geografiese area van die oud Romeinse Ryk opkom, met insluiting van sekere lande soos Duitsland wat in die Germaanse dele lê wat destyds buite die grense van daardie ryk geval het (en in die beeld deur klei uitgebeeld word).  Verder sluit die Unie ook lande van beide dele van die oud Romeinse Ryk in.  Die opkoms van die Europese Unie verteenwoordig duidelik 'n baie belangrike verdere ontwikkeling in die raamwerk van die na-Romeinse wêreld in Europa.  Dit is dus moontlik dat die tien-tone ryk mettertyd binne die raamwerk van die opkomende Europese Unie beslag kan kry.  Aangesien Griekeland destyds die hartland van die oostelike deel van die oud Romeinse Ryk gevorm het, verwag ek dat dit (nou as 'n moderne staat) ook deel van hierdie tien-tone ryk sal wees.  

Indien die Eurosone nie disintegreer nie, maar verder integreer om 'n fiskale unie te vorm, kan dit maklik 'n belangrike stap op pad na die vorming van die uiteindelike tien-tone ryk wees.  Ek het vroeër genoem dat daar binne hierdie fiskale unie sommige lande kan wees wat steeds verder beweeg en 'n politieke unie vorm.  Dit is eers wanneer dit gebeur dat ons kan begin uitkyk vir die moontlike totstandkoming van die tien-tone ryk.  Omdat Griekeland uiteindelik deel van daardie tien-tone ryk sal uitmaak, is daar - vanuit 'n eskatologiese perspektief - rede om te glo dat sy nie die Eurosone sal verlaat nie. 

Slot

In soverre ons vanuit 'n eskatologiese perspektief na die huidige gebeure in die Europese Unie kan kyk, lyk dit dus of ons - in stryd met dit wat die meeste ontleders die laaste paar weke gesê het - kan verwag dat Griekeland binne die Eurosone sal bly.  Meer nog, dit impliseer dat Griekeland ook deel van 'n fiskale unie sal wees - wanneer en indien dit beslag kry.  Dit impliseer verder dat Griekeland uiteindelik ook deel sal vorm van 'n politieke unie indien dit binne die raamwerk van die Europese Unie beslag kry.  Dit is nou as ons inderdaad in die laaste pylvak is en die huidige gebeure met die vervulling van Bybelse profesieë oor die eindtyd verband hou.

Ons kan dus die huidige situasie fyn dophou.  Gaan Griekeland in die Eurosone bly?  Dit is die uitkoms wat ek verwag indien die opkomende Europese Unie die voorloper van die tien-tone ryk is.  As Griekeland, ten spyte van die geweldige krisis, in die Eurosone bly, kan dit 'n aanduiding wees dat die einde inderdaad nie meer baie ver is nie.

Willie Mc Loud