Saturday 3 September 2011

Nuwe Boek: Die Arabiese Opstande

Verwagtinge en voorspellings van die wederkoms is so oud soos die Christendom self.  Onlangs was daar weer die volgelinge van Harold Camping wat onsuksesvol was in hul voorspellings oor die  wegraping op 21 Mei 2011.

Vir die ernstige student oor die wederkoms was 1948 ’n besondere baken.  Dit was die jaar van die  herstel van Israel en die gepaardgaande verwagting dat die laaste geslag aangebreek het. Baie verklaarders het gevolglik gedink dat Jesus se koms voor 2000 n.C. sou plaasvind en daarmee saam die 1,000 jaar vrederyk.

Waar het hierdie verklaarders verkeerd gegaan? Moet ons nou alle vertroue in die profetiese woorde van die Bybel laat vaar? Sekerlik nie sê die skrywer van Die Arabiese Opstande.  In hierdie boek skets Willie Mc Loud ’n toekomsperspektief gebaseer op verskeie bekende Bybelprofesieë en toon dat die eindtoneel inderdaad stadig maar seker in gereedheid kom.

Hy toon dat die huidige opstande in die Arabiese lande ’n belangrike baken is op hierdie pad. Eers was daar die opstande in Oos-Europa, toe in die lande oos en noord van die Swart See, en nou in die  Arabiese lande al rondom die Middellandse See. Is dit toevallig? Is dit slegs maar die opmars van  demokrasie? Nee, ’n nuwe wêreldorde is stadig maar seker besig om vorm aan te neem – een wat treffend ooreenkom met die eindtydse toneel wat lank terug in die Bybel voorspel is.

Hy toon aan dat die opkomende Europese Unie wat op verstommende wyse van 6 tot 27 lidlande gegroei het, sentraal staan in hierdie nuwe orde. As die Arabiese demokrasieë later ook in die Unie geakkomodeer word, sal dit al meer na ’n herstelde Romeinse Ryk begin lyk. Dit is die antichristelike ryk waarvan die Bybel profete gepraat het. Hy bespreek ook die “Rooi Slang” familie wat onverpoos agter die skerms werk om een uit hulle geledere uiteindelik op die troon van ’n toekomstige Unie te plaas.

Hierdie boek is ’n absolute moet vir elkeen wat in eindtydse profesieë belangstel. Daar is vars insigte oor die interpretasie van belangrike profesieë asook ’n geïntegreerde perspektief op die toekoms.

Dr Willie Mc Loud bestudeer al vir bykans 25 jaar die verband tussen wêreldgebeure en  Bybelprofesieë.  Hy het al verskeie boeke oor die tema geskryf en tree gereeld as spreker op.

No comments:

Post a Comment