Monday 26 September 2011

Die Arabiese Opstande - Voorwoord

Hierdie boekie is die verwerking van ‘n reeks lesings wat ek onlangs by ‘n gemeente in Bloemfontein gegee het. Ek is gevra om oor die huidige wêreldsituasie in die lig van Bybelprofesieë te praat. Alhoewel ek nie iemand is wat alles wat in die wêreld gebeur na die Bybel probeer deurtrek nie – daar is baie ingrypende gebeure wat nie direk met Bybelprofesieë verband hou nie – is ek tog van mening dat sekere gebeure soos die Arabiese opstande wat tans in Noord-Afrika en die Midde-Ooste voorkom, met die vervulling van Bybelprofesieë in verband kan staan. Na my oordeel kan dit – afhangende van hoe die situasie verder ontvou – ‘n belangrike baken op die pad na die einde wees. Dit kan dus vir ons sê of die wederkoms nou wel regtig naby is of nie.

Een van die belangrikste redes waarom die Arabiese opstande belangrik is vir enige studie oor Bybelprofesieë, is omdat dit die potensiaal het om die hele situasie in die Midde-Ooste en die Middellandse See-gebied dramaties te verander. As daar ‘n demokratiese groepering van lande rondom die Middellandse See tot stand kom, sal dit maklik by die opkomende Europese Unie ingeskakel kan word (miskien met sekere beperkings soos die op vrye migrasie). Dan sal die Unie al meer soos ‘n herstelde Romeinse Ryk lyk. So ‘n Ryk kan maklik in die eindtydse antichristelike ryk oorgaan as die Antichris beheer daarvan oorneem.

Intussen is daar ‘n groep lande binne die Europese Unie wat ook vanjaar van die ander begin wegbeweeg het. Hulle vorm ‘n kerngroep lande wat mettertyd al verder polities sal integreer. Dit is in hul midde dat daar ‘n heerser vir Europa kan verrys. Dit is in elk geval wat agter die skerms beplan word. In sekere geheime groepe word beplan dat iemand uit die sogenaamde “Rooi Slang” familie mettertyd die leisels van die Europese Unie sal oorneem.

Profesieë wat in hierdie boek ter sprake kom, is dié in Daniël en Openbaring oor die dier wat tien horings het (Dan. 2, 7; Open. 13), oor die Antichris wat as ‘n ander horing tussen die tien horings uitgebeeld word, profesieë oor Libië, Iran, die Slag van Gog en Magog (Eseg. 38, 39) asook oor Israel se herstel in 1948 (die vyeboom wat bot?) en die Millennium (wat nie in 2000 n.C. gekom het nie). Ek kyk krities na sieninge wat telkens nuwe lappe op ou geskeurde klere plak. Voorts ontwikkel ek alternatiewe interpretasies wat meer inpas by die huidige stand van sake.

Hierdie is nie ‘n reeks teoretiese lesings oor die profesieë nie – die gedagte was eerder om ‘n gemaklike gesprek te voer oor die praktiese implikasies van hierdie gebeure in die raamwerk van Bybelprofesieë oor die eindtyd. Die boek is vir die gemiddelde Christenleser bedoel wat ‘n belangstelling in beide wêreldgebeure en Bybelprofesieë het.

Die reeks lesings waarna verwys word kan per reeks DVDs verkry word by die volgende adres: Ebenhaeser Gemeente, Posbus 28593, Danhof, 9310 (Selfoon 0828980853).

Willie Mc Loud (http://wmcloud.blogspot.com/)
Julie 2011
Die Strand

No comments:

Post a Comment